Select Page

AANSOEKE

Die Bloemhof Beursfonds Trust (BBT) ken jaarliks beurse toe vir bedrae wat bepaal word deur die fondse wat BBT beskikbaar het en die behoefte van aansoekers soos blyk uit inligting wat deur hulle in die aansoekvorm verstrek word. Beursbedrae kan dus van jaar tot jaar verskil. Die volledige riglyne en aansoekvorm is onderaan beskikbaar. Die aansoekvorm vir Bloemhof Beursfonds Trust-beurse sal op 1 Julie 2023 open en op 16 Oktober 2023 sluit. Suksesvolle aansoekers sal teen 30 November in kennis gestel word.  Geen laat aansoeke sal oorweeg word nie.

Beurshouers moet vir al die krediete van ‘n bepaalde jaargang van ‘n voorgraadse graadprogram registreer ten einde vir ‘n beurs te kwalifiseer. Met die uitsondering van LLB studente en studente wat Nagraadse Diploma in Hoër Onderwys studeer, kwalifiseer nagraadse studente nie vir BBT-beurse nie.

Voornemende studente moet voldoen aan die Universiteit se minimum vereistes vir toelating tot ‘n graadprogram. Huidige studente moet aan die einde van die jaar minstens 70% van die totale krediete wat vir hul betrokke jaargang vereis word, slaag om te kwalifiseer vir voortsetting van BBT-beurs vir die daaropvolgende jaar.

Neem asb kennis dat ‘n BBT-beurs te eniger tyd verminder of gekanselleer kan word indien ‘n beurshouer se akademiese vordering gedurende ’n jaar, na die uitsluitlike oordeel van die Trustees, nie bevredigend is nie.

 

Die BBT-beurse wat aan studente toegeken word, word direk in hulle studentegelderekeninge by die Universiteit Stellenbosch (US) betaal.

Indien ’n BBT-beurshouer ook ’n ander beurs (merietebeurse en lenings uitgesluit) van die US of enige ander instansie ontvang, moet hy/sy die US se Afdeling Beurse & Lenings (Voorgraads) asook BBT onverwyld daarvan in kennis stel.

Die totale koste per student insluitend klas-, losies- en boekegelde soos bepaal deur US sal as maatstaf gebruik word. Indien ʼn BBT-beurshouer enige ander beurs, uitgesluit ʼn US-merietebeurs, ontvang, sodat sy/haar totale beursgeld die genoemde maatstaf oorskry, sal die BBT-beurs met die bedrag wat die maatstaf oorskry verminder word.
‘n BBT-beurs word slegs vir een jaar toegeken. Studente wat suksesvol studeer, mag aansoek doen dat hul beurse vir ‘n volgende jaar voortgesit word.

Die besluite van die Trustees met betrekking tot die toekenning of voortsetting van beurse is finaal en geen onderhandeling sal daaroor gevoer word nie.

VRAE EN ANTWOORDE

01

Is dit beurse of lenings?

BBT bied slegs beurse aan en nie lenings nie.

02

Wanneer kan ek vir ‘n BBT beurs in aanmerking kom?

Studente van Christelike oortuiging wat in Afrikaans op skool onderrig is, ‘n voornemende of reeds ingeskrewe student by US is en uitmuntende prestasies lewer. Voornemende studente moet reeds ‘n voorwaardlike toelatingsbrief van die US ontvang het.

03

Wat moet my punte wees om in aanmerking te kom vir ‘n beurs?

Jy moet bokant 75% gemiddeld in jou finale graad 12 eksamens behaal het.

04

Watter inkomstegroep word oorweeg?

Jou ouers se gesamentlike inkomste moet tussen R 351 000 en R 800 000 per jaar wees.

05

Watter bewys van inkomste word aanvaar?

Slegs die SARS ITA34 belastingopgawes word aanvaar. Indien enkelouer, heg die doodsertifikaat, voorblad van egskeidingsbevel of beëdigde verklaring aan.

06

Hoe word die beursbedrag bepaal?

Die trustees oorweeg aansoeke volgens die inligting ontvang met klem veral op akademiese prestasie en behoeftigheid.

07

Kan ek in aanmerking kom as ek reeds ‘n NSFAS beurs ontvang?

Nee, jy kan nie ‘n NSFAS beurs ontvang en aansoek by BBT doen nie.

08

Kan ek aansoek doen indien ek ook ‘n ander beurs ontvang?

Jy kan by BBT aansoek doen indien jy ook ‘n ander beurs/e ontvang. Die voorwaarde is dat jy die ander beurse moet verklaar. Wanneer die somtotaal van die beurse wat jy ontvang, die jaarlikse US- koste oorskry, sal jou BBT-beurs met dié bedrag van die oorskryding verminder word.

09

Wat kan deur die BBT beurs betaal word?

Jou studiekostes soos klasgelde, boekegelde en losiesgelde insluitend etes kan betaal word.

10

Ontvang ek die beursgeld in my sak?

Die beursgelde word op jou studenterekening gelaai en kostes vir klasgelde, boeke en losies word afgetrek. Dit word nie aan jou persoonlik uitbetaal nie.

11

Kan ek ’n beurs weier?

 Jy kan ‘n beurs van die hand wys en dit sal dan nie geregistreer word nie.

12

Hoe moet my akademiese prestasie op US wees ten einde vir nog ’n jaar aansoek te doen?

 Jy moet ten minste 70% van jou krediete slaag ten einde vir nog ’n jaar aansoek te doen.

13

Wat gebeur indien ek onsuksesvol is in my studies?

Indien jy nie 70% van die krediete slaag nie, kan die trustees die beurs beëindig en geen verdere befondsing uitbetaal nie. .

14

Is die beurse vir nagraadse studies beskikbaar?

Die BBT beurse is slegs vir voorgraadse studies. Indien die student NOS en LL.B. studeer, sal die trustees dit wel oorweeg.

Doen aansoek

Doen aansoek